We found the 28th language in which the Stabat Mater has been translated: by Prof. dr. Cas J A Vos.
Read more
(1)By die kruis het sy vasgestaan,
moeder van smarte, aangedaan
oor haar Seun wat moedig sterf.
(2)Die swaard het haar sugtende hart,
treurend en gevul met diep smart
deurboor, haar gekwes, gekerf.
(3)O hoe treurig en neergeslaan
geseënde Moeder, aangedaan
oor haar Seun, vlees uit haar skoot.
(4)Sy was bedroef, sy het gely,
heilige as Moeder gewy,
haar lofryke Seun gaan dood.
(5) Wie sou nie aanhoudend ween
wanneer hy die Moeder alleen
in diep ellende sou sien?
(6) Wie weerhou die mens se hart
om te deel in haar groot smart
as sy na haar Seun omsien?
(7)Vir al sy volk se sonde
sien sy Jesus se rou wonde,
oorgegee aan kastyding.
(8)Haar geliefde het pyn verduur,
verlate in sy sterwensuur
tot Hy sy gees laat uitkring.
(9) Moeder, fontein wat liefde skenk,
laat u stroom van pyn my deurdrenk
dat ek saam met u kan treur.
(10) Gee dat my hart ’n gloed uitsprei
om só self meer troos te verkry
deur die liefde van my Heer.
(11)Heilige Maagd, deurboor my hart
met wonde dat my Heer se smart
ook letsels op my nalaat.
(12) Deel met my die pyn en lyding
van u Seun se stil verwonding,
in my plek is Hy verlaat.
(13)Gee dat ek vroom saam met u ween
oor die Gekruisigde alleen
al die dae wat ek ontvang.
(14)Ek smeek, pleit van harte om saam
met u by die kruis te bly staan,
saam te treur met klaagsang.
(15)Maagd van maagde
verheerlikte vrou!
Ek versoek u liefdevol nou:
Gee tog dat ek ook mag treur.
(16)Gee dat ek Christus se dood dra
en mag ek my deel van sy slae,
sy wonde opnuut onthou.
(17)Gee sy wonde vir my as vrug,
gee dat die kruis my versadig,
my begeester met sy bloed.
(18)Mag die vlamme my nie brand nie,
O maagd, hou my vas in u hand.
Bewaar my op die oordeelsdag.
(19)Christus, wanneer my reis begin,
laat u Moeder my tog bemin
en ek die lourierkrans kry.
(20) Wanneer my liggaam die dood vrees,
hou my vas en gee aan my gees
die paradys se glorie.
Amen
Translation by by Prof Cas J A Vos, theologian, emeritus Dean at the University of Pretoria